Slaginstrument

Diverse slaginstrumente.

Perkussie is volgens die HAT slaginstrumente wat deel van ’n orkes of kleiner musiekgroep vorm. Die WAT beskryf perkussie verder as die klank wat deur die slaginstrumente voortgebring word, gewoonlik energiek en met ’n bogemiddelde ouditiewe impak, veral dié wat voortgebring word wanneer twee voorwerpe teen mekaar gestamp word.

Die slagsinstrumente word gewoonlik op ’n kleiner verhoog langs die kontrabasse opgestel, of aan die teenoorgestelde kant langs die Franse horings. In ’n groot orkes op ’n groot verhoog sal dit die laaste linie agter die koperblasers vorm.

Daar word in die geneeskunde ook van perkussie gepraat wanneer daar na beklopping verwys word, soos wanneer fisioterapeute slym op die bors behandel en hulle posturale dreinering en perkussie toepas.

Gedurende die 18e eeu is daar gewoonlik slegs van pouke (keteltromme, timpani) gebruik gemaak, maar mettertyd is daar ʼn groter verskeidenheid van slaginstrumente bygevoeg (dit word vandag afsonderlik in die orkespartituur genoteer).

Vandag tree poukespelers byvoorbeeld ook as soliste op en 'n hele paar werke is spesiaal vir slaginstrumente gekomponeer. Die slaginstrumente van die Westerse orkes is min of meer almal verbeterde vorme van nie-Europese instrumente. Slaginstrumente word in 2 groepe ingedeel, naamlik die met ʼn bepaalde toonhoogte (wat gestem word) en dikwels as melodiese instrument gebruik word, en die met 'n onbepaalde toonhoogte, wat ʼn ritmiese of kleurfunksie het.

Die klankbron van slaginstrumente is ook tweërlei van aard en kan idiofonies wees, dit wil sê die klank word deur die hele klankliggaam voortgebring (byvoorbeeld die triangel of " driehoekie"), of membranofonies, dit wil sê die trillings van 'n gespanne vel is die eintlike geluidsbron.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search